Die Hamidiese slagting (Armeens: Համիդյան ջարդեր, Turks: Hamidiye Katliamı), ook genoem die Armeense slagting van 1894-1896,[2] was moorde op Armeniërs in die Ottomaanse Ryk wat in die middel 1890's plaasgevind het. Na raming het tussen 80 000 en 300 000 mense gesterf[3] en 50 000 kinders wees gelaat.[4]
Die slagting is genoem na sultan Abdülhamid II wat, in ’n poging om die domein van sy ondergaande ryk te probeer beskerm, Pan-Islamisme as ’n staatsideologie herstel het.[5] Hoewel die veldtog hoofsaaklik teen die Armeniërs gerig was, het dit in sommige gevalle gelei tot blindelingse diskriminasie teen Christene, soos met die slagting van Diyarbakır in 1895 waar, volgens minstens een bron uit dié tyd, tot 25 000 Assiriërs ook vermoor is.[6]
Die slagting het in 1894 in die binneland van die Ottomaanse Ryk begin voordat dit in die jare daarna uitgekring het. Die meeste moorde het tussen 1894 en 1896 plaasgevind. Dit het in 1897 begin afneem nadat Abdülhamid internasionaal veroordeel is. Die strengste optrede was teen die lank vervolgde Armeniërs, terwyl oproepe vir burgerlike hervorming en beter behandeling deur die regering geïgnoreer is. Die Ottomane het geen onderskeid gemaak wat geslag en ouderdom betref nie, en die mense is met brute krag vermoor.[7]
Die slagting het plaasgevind in ’n tyd dat die telegraaf nuus oor die wêreld heen kon versprei en die moorde is wyd gedek in die Wes-Europese en Noord-Amerikaanse media.